Tuisskool in Afrikaans
  • Tuis
  • Ondersteun my!
  • Afrikaans Taal
  • Leesboekies
  • Wiskunde
  • Geskiedenis
  • Luister Stories
  • Idiome
  • Ons skool blog
  • Mammas se produkte
  • Vir nuwe Tuisskool mammas
  • Gedigte/Poësie
  • Afrikaans tweede taal
  • Youtube kanale

Ek erken - vandag is ek moedeloos!

3/13/2017

0 Comments

 
Hierdie inskrywing se doel is om net te wys - ek is "real" - en gaan ook deur beproewinge soos enige iemand anders. Maar ek wil ook almal bemoedig hierdeur - so hier gaan dit ....

Ek is reeds sedert September verlede jaar besig om aan 'n kurrikulum te werk( nee wag, meer soos die afgelope 2 jaar- maar sedert September , meer gefokus) Ek het allerhande idees gehad van hoe ek dit wil aanpak... van aflaaibare pdf's tot gestruktureer soos Easy Peasy, tot online met 'n password , tot ek toe nou uiteindelik besluit het op 'n regte membership website wat met 'n "Learner Management System" geskryf word op Wordpress. Nodeloos om te sê het ek meer afgekou as wat ek kan verteer - en as waarvoor ek tyd het. (Ek sal seker op 'n stadium terugkyk en dink" ek verstaan nie hoekom ek so gesukkel het nie" ) So hoogs entoesiasties pak ek toe die ding aan - youtube kan jou mos enige ding leer! :-) So ek ontwerp 'n Wordpress website op 'n LMS op 'n Localhost - min weet ek as dit die dag by publiseer kom , is dit nog 'n paar hoepels waaroor ek moet spring...So sukkel ek nou al 3 volle dae om die website op die lug te kry ( voor verlede Saterdag heel dag, verlede Saterdag heel dag , en vandag heeldag- want dit moet net nou regtig gedoen word - al staan ek 'n dag skool af!) Net om vanmiddag by my server te hoor dat die probleem waarskynlik by hulle lê en dat hulle sal terugkom na my toe! Ek wou huil!

So dit is die gedagtes wat deur my kop gaan.... wat van ek stuur die kinders skool toe , sodat ek net hierdie ding kan doen...skool is mos verniet hier. Dan kan ek elke oggend tyd afstaan om die kurrikulum waaroor ek nou al 3 jaar droom op die lug te kry - en hom so te kry om vir my 'n paar Randjies in te bring....mmmm...O! die versoeking!

En die Here roep my weer terug en herinner my hoekom ek tuisskool en waaroor dit alles gaan... Ja  , ek wil die kurrikulum op die lug kry - dit sal finansieel vir ons baie beteken om ekstra geldjies van iewers af te kry - en dit sal ook ander mense baie kan help met hulle tuisskool avontuur in Afrikaans, Plus dit sal vir my baie beteken as ek weet ek is besig om ander te help...
So 2 van die 3 bogenoemde redes gaan oor My en My behoeftes.... en dis nie waar ek wil wees nie... Ek wil fokus op my kinders , want hulle is slegs vir 'n kort tyd vir my geleen en onder my vlerk. Oor 'n paar jaar van nou af - gaan ek hulle terug wens onder my vlerk in en gaan daar meer as genoeg tyd vir MY wees!

So ek kry myself om na die breër prentjie te kyk... Hoe gaan dit met ons gesin? In hoe verre hou ons by ons doelwitte vir die jaar? In hoe verre hou ons by ons planne vir 2017 wat kurrikulum aanbetref? Is my kinders besig om te leer en is hulle gelukkig? Dit is die dinge wat belangrik is.

So ek sukkel verskriklik met my kurrikulum website, en saam met dit het ek ander uitdagings soos 'n huishulp wat onbetroubaar is , en opdaag soos dit haar pas. Maar ek kies nou om te fokus op die meer belangrikke dinge...

Hoe gaan dit met ons gesin? Die kinders is meestal gesond en gelukkig. Ek en my man is op 'n goeie plek in ons verhouding. Ek en die kinders kom goed oor die weg. En my man gaan uit sy pad uit om tyd te maak vir die kinders - ten spyte van sy lang werksure. So ek sou sê dit gaan goed ! :-)

In hoe verre hou ons by ons doelwitte vir die jaar? Ek dink ons hoof doelwit is : Afrikaans, baie lees, minder tegnologie, minder engels, meer familie en praat tyd....Ek dink nie ons bereik dit 100% nie - maar gee myself so 75% ( so ek is tevrede)

Hoe ver hou ons by ons kurrikulum doelwitte vir 2017? Ons vorder goed deur die leesstof - ons is huidiglik besig om Danda op Oudeur te lees , ons is ook nog heel goed op skedule met ons wiskunde, Bybel, Geskiedenis en Wetenskap. Skrif en voorlees kan 'n bietjie meer aandag geniet. Maar oor die algemeen is ek ook heel gelukkig met ons vordering op hierdie vlak.

Is my kinders besig om te leer en is hulle gelukkig? My kinders geniet die tuisskool nog baie! Hulle leer ongelooflik baie- nie net wat ek vir hulle leer nie , maar hulle leer hulleself ook dinge. Hulle volg hulle belangstellings in hulle af tye en verras my gereeld met nuwe dinge wat hulle geleer het! Viva Tuisskool! :-) Hulle is ook gelukkig. Ek dink daar is nog ten dele 'n leemte vir maats - hoewel hulle aan baie maats blootgestel word het hulle nog nie regtig vaste maats gemaak nie. Hulle neem deel aan die privaatskool hier se sport oefeninge (2 ure per week) , hulle doen voortrekkers, gimnastiek, fungym en Inline Hokkie(net my oudste) So dit gee vir hulle hope geleentheid vir sosialisasie.Ek vertrou dat maats nog sal gemaak word. Maar in die breer prentjie is hulle gelukkig!

Die antwoorde op die boonste vrae is die kern van wat vir my belangrik is - en dit wat ook vir my geluk bring! :-)

So oor hierdie rede skryf ek hierdie inskrywing ....om myself ...en dalk vir jou wat hier lees...te herinner dat dit nodig is om te fokus op wat belangrik is in die lewe , om perspektief te behou - al voel dit vir jou alles tuimel in een!

Liefde en baie sterkte vir jou op jou mamma-wees reis , en op jou tuisskool- reis!

groete tot volgende keer! xxx
0 Comments

Kurrikulum idees vir 2017

2/4/2017

0 Comments

 
Ek noem hierdie post "kurrikulum idees" want na vyf jaar se tuisskool het ek uiteindelik besef dat ek selde die hele jaar hou by die kurrikulum wat ek vir myself uiteensit aan die begin van die jaar.Maar ek deel in elk geval hier wat my planne is vir die jaar.
Vir die wat my nie ken nie - ek is 'n vreeslike groot Charlotte Mason aanhanger. Alles waarvoor sy staan resoneer net met my. Die woord sê:Alles wat goed is, alles wat mooi is, alles wat lieflik is , alles wat loflik is, watter deug daar ook mag wees - bedink dit ! (rof weg aangehaal) Daarom is die naam van my kurrikulum ook Lieflik en Loflik. Ek wil hê dat my kinders se denke elke dag verhoog moet word , deur die mooi in hierdie wêreld raak te sien en te waardeer en ook die wonder van ons God te aanskou en te ervaar in hulle daaglikse lewe. Om hierdie rede volg ek 'n Charlotte Mason manier van skool gee , maar aangesien daar nie 'n Afrikaanse Charlotte Mason kurrikulum op die mark is nie - stel ek my eie een saam . Dus kan ek ook gesien word as 'n eklektiese tuisskoler(eclectic homeshool).

PS: 'n Paar van die boeke en kurrikulum wat ek gebruik is te koop op Loot. Sou jy dit van hierdie blad afkoop sal ek 'n klein kommisietjie daarvoor ontvang.Ek sal baie dankbaar wees daarvoor! :-) .xx
Kurrikulum wat gekoop kan word wat ek gebruik:
  • ​ Story of the World Vol 1. Ons maak nou klaar met Ancient Greece
  • Mystery Science. Ons het 'n gratis subskribsie gekry vir 'n jaar - sover geniet ons dit baie.Ek sien dit is nogals duur om aan te koop - maar ek moet sê ek oorweeg dit sterk om dit aan te koop wanneer die tyd aanbreek. https://mysteryscience.com
  • Math Mammoth . Daar is seker goedkoper opsies op die mark , maar ek is net mal oor die manier waarop hierdie materiaal aangebied word - dit het wiskunde vir my kind wat tot op 10 nie verby "basis 10" kon beweeg nie , oopgebreek - nou is sy baie lief vir wiskunde. 
  • http://www.mathmammoth.com/south_africa/
  • Susan Hammond se Classical Kids. Een komponis per kwartaal.Ons het reeds Beethoven verlede jaar gedoen. Ek gaan wegspring met Mozart hierdie kwartaal.
Ons leeslys: ('n CM Kurrikulum bestaan hoofsaaklik uit boeke wat voorgelees word)
Bybel: 
  • Spreuke en Korinthiërs
  • Die Bybel Verhaal Deel 5,6 en 7.

Karakterbou:
  • Stap saam na Jesus
  • Stories vir jong ore
  • Parables of nature
  • 50 famous stories retold
  • 30 more famous stories

Geskiedenis en Aardrykskunde:
  • Geskiedenis vir die Kinders (onder Geskiedenis op hierdie webblad)
  • Story of the World Vol1 en begin Vol 2.
  • Kinders van die Wêreld - soos wat ek dit wil gebruik om boonste 2 bronne aan te vul.
  • Jock van die Bosveld
  • Jenny Seed Boeke wat ek in die hande kan kry in die biblioteek
  • Alexander se groot reis
  • Seuns van die steppe
  • Buks van die rooi woestyn
  • Mensies in die dorsland
  • Verhale uit die Mitologie
  • Verhale uit Herodotus
  • Die skat van Java

Literatuur/Stories:
  • Narnia - 4 stories
  • Laura Ingels Wilder se boeke in Afrikaans
  • Danda(het hom Desember gelees)
  • Danda op Oudeur
  • Huberta se reis
  • Julie en die wolwe
  • Die Wind in die Wilgers
  • Winnie die Pooh(oorspronklik weergawe , nie Disney)
  • Tom Sawer
  • Huckleberry Finn
  • Die Groen Ghoen

Wetenskap:
  • Ons liggaam (5 boeke)
  • The Story book of Science(Fabre)

Poësie:
  • Jong Suid-Afrika Bloemlesings (op my webblad)
  • My vierde Verseboek (D.J. Opperman)
  • My vyfde Verseboek(D.J.Opperman)
  • Verseboek vir Standerds 6 en 7 (D.J. Opperman)
  • A child's Garden of Verses

Goed,goed ek weet - hierdie is 'n lywige leeslys! Die kans is groot dat ek nie al die boeke gaan voorlees nie - maar ek gaan probeer! :-)

​Luister Stories:
Ek gebruik RSG se luister stories om my te help om Afrikaans goed vas te lê. Hierdie sal nie deel uitmaak van 'n tipiese CM kurrikulum nie, aangesien dit sal deurgaan as "twaddle" . Maar vir my dien dit sy doel , en die kinders geniet dit baie!
Die stories wat ek van plan is om te gebruik hierdie jaar het ek reeds van RSG se potgooi gaan aflaai- dit sluit die volgende in:
  • Nalibali
  • Manie Mier
  • Lekker leer
  • Klaasvakie roep
  • Bybelstorie tyd

Sang:(CM praat van "hymn and folk songs")
  • ​FAK Liedjies
  • Geestelike liedere uit my kinderdae(hoofsaaklik skrif gebasseer)
  • Afrikaanse kunsternaars se liedjies(Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Adam Tas, Annelie van Rooyen, Carike Keuzenkamp,Koos du Plessis,Lucas Maree ens.)

Natuurstudie:
  • Ek het 'n hele paar voël boeke en ander natuur boeke wat ek gebruik as ons in aanraking kom met iets interressants in die natuur - dan lees ons daaroor op. Anders google ek dit of ek vra op Facebook vir identifisering van insekte ens.

Komponis studie:
  • Susan Hammond se Classical kids

Kunstenaar studie:
  • Ek sal 1 kunstenaar per kwartaal behandel. Ek het nog nie op my bronne besluit nie - sal waarskynlik google of youtube.

2de en 3de Taal:
  • Vir Engels gebruik ek www.allinonehomeschool.com se Reading en Language Arts
  • Ek moet Duits aanpak hierdie jaar - sal waarskynlik van youtube gebruik maak en oorweeg dit om my duitse buurvrou te vra om my kinders duits te leer.

Wiskunde:
  • Math Mammoth Light Blue series
  • Khanacademy.org
  • MEP Maths (Math Enhancement Project) hierdie gebruik ek net gedeeltelik.

Nou ja, ek dink dit is dit. Ek hoop om elke week minstens een dag te post van ons aktiwiteite vir daai dag. Sien uit om meer van ons lewe met julle te deel! 

Groetnis en seën vir julle!
​xxx
0 Comments

 Planne vir 2017

2/3/2017

0 Comments

 
Sjoe! Maar ek het omtrent lank gevat om aan die gang te kom hierdie jaar! Om die waarheid te sê - ons het eintlik deur die hele Desember geskool en deur die hele eerste gedeelte van Januarie - sonder om die gevoel te hê dat die nuwe jaar nou aangebreek het en ons seker moet beplan en al daai dinge :-) . 
My man se werk is so dat hy nie Desember kon afkry nie- so ons het eers die laaste week van Januarie op vakansie gegaan. Met die gevolg dat ons nuwe jaar eintlik nou eers hierdie week begin het.
Hierdie jaar pak ek weereens aan met 'n verbete fokus op Afrikaans. Vir die wat nie my vorige posts gelees het nie: my 9 jarige seun het 'n spraak gebrek , wat beteken ons moet ekstra hard werk om sy taal vaardighede goed vas te lê. So ek beplan hierdie jaar om skool so te kombineer met terapie - of terapie -agtige aktiwiteite sodat ek die beste resultate kan kry.
Natuurlik is die beste terapie : praat,praat en nogmaals praat...iets wat vir my regtig moeilik is aangesien ek 'n introvert is - en as ek moeg is , is dit letterlik asof ek net nie meer woorde kan uitkry nie!(Ek is seker daar moet 'n paar mammas daarbuite wees wat die selfde ervaring het!)
So wat is my plan van aksie om dit te implementeer? Eerstens is dit 'n goeie idee om net die lewe te leef en oor alles te praat wat jy beleef. So ek fokus nou meer daarop om geselsies met my kinders aan te knoop waarin hulle my sommer net goedjies kan vertel wat in hulle koppe aangaan. Dan is ek van plan om een keer per week 'n bak en brou dag te hê. Die idee is dat dit dien as sensoriese terapie( deeg knie , pasta maak, koekies rol) asook om almal 'n geleentheid te gee om saam te werk aan 'n gemeenskaplike doel , te leer hoe om resepte te volg en sommer net om saam pret te hê. Die bykomende voordeel sal wees dat ons 'n hele paar etes kan vooruit voorberei sodat ons minder tyd aan kosmaak afstaan die res van die week - en hopelik sal ons dan ook gesonder eet. Ek het afgekom op die volgende webblad en dink ek gaan 'n paar idees gaps en gebruik in ons kosmaak dag :​ https://www.howtosmile.org/topics/cooking#principle-1 . Dit gebruik kos om wetenskap en wiskunde beginsels te verduidelik. Verder (hierdie is seker die belangrikste verandering) gaan TV en tegnologie in hierdie huis tot die minimum beperk word! Ons is nie geneig om TV te kyk nie aangesien ons nie DSTV het nie - maar ons youtube graag en die kinders is natuurlik dol oor flieks kyk. Die probleem is net dat daar regtig nie genoeg in Afrikaans beskikbaar is nie , met die gevolg dat hulle op die einde van die dag oor die loop van 'n naweek(want TV is beperk deur die week) sommer 8-10 ure blootgestel was aan engelse TV/ flieks(Ja - ek is ook feilbaar en maak die TV partykeer die baba oppasser!). Dit is net nie meer aanvaarbaar nie. TV sal nou die uitsondering op die reël wees en nie die reël nie! Kinders gaan tot verveeldheid gedryf word by gebrek aan tegnologiese stimulasie en dit sal hulle hopelik dwing om meer te lees :-) . Afrikaans natuurlik! Ek het ook 'n reëling met 'n tuisskool vriendin hier gemaak vir 'n vasgestelde kuier tyd een maal per week , sodat ons kinders ook met maats kan kommunikeer . (Gee mamma bietjie rus). Ons gaan ook probeer om meer gereeld bord speletjies te speel. Dit is iets wat ons in die verlede gereeld gedoen het - maar bietjie afgeskeep het na ons trek. Bord speletjies skep wonderlike geleenthede vir gesprek voering!Verder probeer ek Charlotte Mason se manier van skool toepas. Ons lees oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe, ons sing, ons luister musiek , ons leer uit die natuur, ons geniet gedigte, ons bekyk kuns werke, en ons is van plan om bietjie meer aandag aan handwerk en natuursketse te gee. Ek sien regtig uit na wat die jaar gaan oplewer!
Op 'n persoonlike vlak - het ek ook allerhande dinge wat ek wil doen die jaar ,behalwe om vir my kinders skool te gee. Ek begin volgende week vir 2 ure op 'n Dinsdag oggend fun gym aanbied vir Gr R kindertjies. Ek gaan ook as afrigter betrokke wees by die Gimnastiek 'n paar middae  per week. Dan is ek reeds 'n geruime tyd besig om te werk aan 'n Afrikaanse tuisskool kurrikulum. Ek gaan moet tyd inruim om ook daaraan te werk. Behalwe dat ek voel daar is defnitief 'n behoefte daaraan - is dit iets wat die Here seker al 3 jaar terug op my hart geplaas het , en ek voel dit is hoogtyd dat ek begin in gehoorsaamheid wandel. Dit gaan ure en self dissipliene van my kant af kos , maar ek glo dat ek die vrug daarvan sal pluk op die einde van die dag. Dan het ek ook gedink - dat terwyl ek nog werk aan die kurrikulum ek 'n bietjie meer gereeld gaan blog oor hoe ons tuisskool dae nou eintlik lyk. Dit sal dien as bemoediging vir ander tuisskolers , en nuwe tuisskolers hopelik 'n kykie gee op hoe 'n dag by die huis kan lyk en miskien sommer ook dien as 'n dagboek vir my waarop ek eendag kan terug kyk.So julle kan uit kyk vir meer gereelde tuisskool inspirasie van my kant af!

Ek wou eintlik in hierdie post meer besonderhede gegee het oor kurrikulum wat ek uitgesoek het vir die jaar - maar ek dink ek gaan 'n aparte post daaroor skryf. Hy volg binnekort.

Ek wens julle almal 'n geseënde tuisskool jaar toe!
Tot volgende keer  .
​xxx

​
0 Comments

Vereenvoudig- raad vir die uitgebrande Ma.

9/13/2016

0 Comments

 
Die mense wat my ken weet ek is nie iemand met pretensies nie- partykeer gaan dit goed en ander kere gaan dit minder goed- en dit is net hoe die lewe is. Die lewe van ‘n Tuisskool ma is ook nie anders nie. Ons is onlangs deur ‘n trek – iets wat beskou word as hoogs traumaties- en ons pas nog aan. Maar so is daar in elke tuisskool ma se lewe seisoene waar dinge nie presies loop soos jy beplan nie.

Ons almal het doen lysies, doelwitte, skedules, roosters, kurrikulums, familie ens . -wat ons konstant laat voel dat ons nie bykom nie – maar die persoon wat die hardste op ons is , is onsself! Partykeer is dit nodig om terug te treë en dit wat jy doen te minimaliseer om sodoende dit wat jy doen te kan optimaliseer! Die Here het regtig die laaste tyd met my hart gewerk oor vereenvoudiging van wat ons doen. Ja, ek wil nog daai geskiedenis kurrikulum doen , en O! Daai aardrykskunde lyk so lekker, om nie eers te praat van die eksplosiewe wetenskap eksperimente nie ! Voeg daarby programmering, ‘n derde taal, tik, musiek,kuns, tegniese tekeninge en voor jy weet – wemel jou kop van dinge wat jy nog wil doen en net eenvoudig nie tyd het om in  te pas nie.

Dan het ek boonop nog 6 kinders ook – en ek wil vir elkeen so veel stimulering in elkeen se individule rigtings gee as wat ek kan- genoeg om enige normale mens tot breekpunt te dryf!

So ons het terug getree en vereenvoudig! Dit wat die Here my wou wys – en iets wat elke gesoute tuisskoler teen hierdie tyd weet is- MEER IS NIE BETER NIE!
Ons konsentreer SLEGS  op Lees, Skryf en Wiskunde. Dis dit! Die res sal vir hulleself sorg. Daar is nie ‘n haas as dit kom by die opvoeding van ons kinders nie . Wat baie belangriker is as boekekennis- is dat ons by ons kinders se hartjies uitkom en terselfdertyd ook nie vergeet om na onsself te kyk nie – want as mamma plat val , stort die hele huis ineen.
So ons dag roetine lyk as volg:
1. Staan op en eet saam ‘n rustige ontbyt.
2. Ek lees vir almal voor uit ons Bybel storie boek. Partykeer lees ons net een hoofstuk- ander sommer drie. So ‘n spesiale tydjie om Jesus se liefde en God se grootheid aan my kinders oor te dra.
3. Daarna sing ons almal geestelike liedere saam. Ek probeer om soveel moontlik liedjies vir die kinders te leer wat reguit uit die Skrif uit kom – dan dien dit ook sommer as ons Skrif memorisasie werk.Bybel tyd duur enige iets tussen 30min en 1 uur.
4.Ons almal vat ‘n vinnige breuk.
5. Dan gee ek eerste bietjie toegewyde aandag aan my jonger kinders. Ek lees vir hulle die boekies voor wat hulle self by die biblioteek uitgekies het en praat sommer bietjie oor die boekies en die lessies- as daar iets te lere is.Na so 20 min is hulle reg om te gaan speel – en hulle gaan spring trampoline of speel in die sand(hier’s baie daarvan) In hierdie tyd kan my groter kinders hulleself besig hou- hulle teken, lees vir hulle self of luister wat ek lees.
6. Daarna is die groter kinders se hoofstuk boek aan die beurt. Op die oomblik is ons besig om Saartjie te lees.(Ek sal seker afgeskiet word vir die min literêre waarde van ons keuse- maar ons leer verbasend baie!)Omdat Saartjie ‘n “ouer” boek is – is die Afrikaans wat gebruik word nog regtig mooi en my kinders se woordeskat brei daagliks uit. Ons lees gewoonlik minstens 1 hoofstuk wat ons gewoonlik so 40 minute vat om te voltooi.Hierdie tydjie skep ‘n heerlike atmosfeer van gemoedelikheid en liefde en ek kan sien hoe my kinders se hartjies rustig is en gevoed word.Ek kan regtig aanbeveel om “sommer net ‘n storie” vir jou kinders voor te lees!
7. Ons lees ook uit Kinders van die Wêreld uit 2/3 dae per week. Ek gebruik dit op die oomblik as my “spine” om al ons algemene kennis lesse uit te haal. Sover het ons al natuur lessies, sosiale studies, aardrykskunde en geskiedenis lessies daaruit kon leer – ek het gesien dat daar ook vorentoe wetenskap lessies , chemie en meer gaan opduik. Ons lees slegs so 20min op ‘n slag – maar die kinders onthou die inligting waarmee ons te doene kry- want hulle het ‘n onmiddelike verhouding daarmee omdat dit  in ‘n storie vorm is.
8. Daarna is dit buite speel tyd vir almal en ek geniet ‘n koffietjie.
9. Terwyl die groter kinders speel- roep ek die kleineres in(5 & 6 jr) en ons doen gou wiskunde saam. Sommer mondelings – tel, vorms, eenvoudige sommetjies. As hulle wil – laat ek hulle ‘n paar nommers en letters ook skryf. En ons sê gou die rympie wat ons besig is om te leer op.Dit vat regtig nie meer as 10 minute nie.Hulle voel hulle het “skool” gedoen – en hulle “aandag emmertjies” is weer vol sodat hulle weer lekker buite kan gaan speel.
9. Dan word my 12 jarige gestuur om haar wiskunde te gaan doen en ek vat my 8jarige en 11jarige om die beurt vir hulle wiskunde. Ons werk net omtrent 30 minute vir elkeen, maar dit is een tot een aandag so ons kry heelwat verrig.
10. Daarna is dit middag ete en rus tyd.Ons vat minstens ‘n 2 ure middag breuk. Ek gebruik hierdie tyd om te gaan slaap of net rustig in my kamer te verkeer. Ek is ‘n introvert en het alleen tyd nodig om te herlaai. Die kinders hou hulleself rustig besig(daar is ‘n defnitiewe “rustige tyd “ reël gedurende hierdie tyd- so hulle mag nie hardloop en spring speletjies speel nie)Hulle speel kaart, bordspeletjies, doen kuns en per geleentheid mag hulle saggies ‘n Afrikaanse storie op TV kyk. Die middae is alreeds baie warm hier in die Namib – so ons verkeer meestal binneshuis rondom hierdie tyd.
11. As ek opstaan , takel ons die Afrikaans.
My groter kind werk onafhanklik aan Wetenskap , Engels , Afrikaans en Bybel wat ek vir haar uitgelê het- sy moet ook vir my ‘n kort opsomming skryf van die wetenskap lessie wat sy geleer het die dag- dit dien dan as haar skryf en spelling werk.
Ek vat my 11 en 8 jarige( en partykeer sit my 5&6 jarige sommer in) en ons doen mondelings ons Afrikaanse lessies. Ons doen een lessie uit “My Afrikaanse Taalboekie”, een lessie uit “Juta se Taalboekies” en een lessie uit “ Jong Suid-Afrika se bloemlesing” . Laasgenoemde se storie moet hulle om die beurt vir my voorlees en dit dien dan as hulle lees oefening vir die dag.
12. Twee middae ‘n week slaan ons die Afrikaans oor en vervang dit net met ‘n fonetiese en leesles. Elke kind(8 en 11) lees dan om die beurt so 15 min vir my voor.
13. My 8 en 11 jarige oefen vas skrif op die oomblik en  hulle sal dan gewoonlik of wanneer ons besig is om te lees sit en hulle skrif oefen , of aan die einde van die dag hulle skrif doen.
14. Ons is teen 3 uur/4 uur klaar met die dag se werk.
 
En só het ons dan ons dag ongejaag en rustig deurgesien. Geen druk van ‘n kurrikulum wat MOET afgehandel word nie, geen geskree want jy werk nie vinnig genoeg nie, geen oor die rug kyk of ek nou al die “uitkomstes” wat CAPS verwag – gedek het nie. Net rustig leer, praat oor dit wat opkom en gemoedelike samesyn.
Ek geniet hierdie manier van skool so - ek mag dit dalk nog ‘n hele paar maande volhou.
Ek wil regtig vir die uitgeputte, uitgebrande ma’s wat hierdie lees – aanbeveel om terug te treë en te vereenvoudig. Jy hoef dit nie presies te doen soos ek nie- elke gesin is anders- maar oorweeg dit om vireers die klomp ekstra vakke wat jy indruk te laat staan en net te konsentreer op dit wat vir julle NOU EN HIER die belangrikste is.Daar sal altyd nog tyd wees om die ander dinge te leer.
Onthou om die Vader te soek in jou Tuisskool reis en jou reis sal geseënd wees!
​
Tot volgende keer. xx
0 Comments

Sommer net bietjie oor ons.

8/6/2016

4 Comments

 
Ek is nie 'n vreeslike blogger nie - in die sin dat ek nie baie self disipline het om gereeld iets te skryf nie - maar ek dink tog ek het hier en daar 'n bietjie wysheid om te deel - of dalk net 'n spasie nodig om bietjie te klank bord. :-)

So hierdie post gaan sommer net 'n bietjie oor ons.
In plaas daarvan om by die heel begin te begin - wil ek vertel wat huidiglik in ons lewe aangaan.
Ek het 6 kinders ( 4 dogters en 2 seuns) en ons is nou 3 maande in Namibie. So behalwe dat ons almal seker nog probeer om aan te pas na die groot trek- gaan die lewe aan , en skool gaan aan...

Toe ons in Suid-Afrika was het ek vir 'n paar maande 'n engelse gesin uitgehelp met die skool van hulle kinders - ek is ontsaglik lief vir daai kinders , en nie vir 'n oomblik spyt daaroor oor nie- maar ter na betragting is ek nie so seker of dit die regte ding was om te doen in die lig van die feit dat my 8 jarige seun spraak probleme het, en die vermenging van Afrikaans en Engels maak hom ongelooflik deurmekaar.Sy Afrikaanse sinne bevat engelse sinskonstruksie en partykeer voel dit vir my hy dink glad nie in enige taal nie - maar in prentjies - so om woorde uit hom uit te kry wat sin maak en verstaanbaar is , is partykeer regtig 'n uitdaging.
So my doelwit vir die einde van die jaar is om hom te kry om baie meer verstaanbaar te praat - sodat ek nie orals waar ons gaan vir almal moet verduidelik van sy spraak probleem nie. Hy het eers op 4 begin praat en van die begin af was dit net moeilik om hom te verstaan. Die spraak terapeut het gesê hy is net nie taal aangelê nie. Die probleem is dat ons Afrikaans Huisstaal praat , maar dat ons bv. altyd 'n engelse huishulp gehad het en dat ons lank in Benoni gebly het waar al sy maats engels was. Vir my dogters was die "dubbel medium" lewe baie maklik- maar nie vir my seun nie. 

So ek implementeer nou die afgelope 3 weke my plan van aksie: slegs Afrikaanse TV , luisterstories, musiek mag in die week gekyk of geluister word. Absoluut geen Engels in die week nie! Die spraak terapeut het gesê 90% van wat hy hoor moet Afrikaans wees. So het ek ook nou begin om 1 lessie uit "My Afrikaanse Taalboekie" , 1 lessie uit " Juta se Taalboekie st 1" en 1 lessie uit " Jong Suid-Afrika Bloemlesing vir st1" elke dag saam te doen. Die leeslessie moet hy self lees. Werk wat ek gedink het eenvoudig is en wat ek sommer wil oorslaan - is toe eintlik 'n uitdaging vir hom. Eenvoudige goed soos maak 'n sin met die woord "tuin". Sy sinne begin sommer iewers in die middel met die byvoeglike naamwoord. Volg die patroon : Die olifant is klein. Nee, die olifant is nie klein nie. Hy kon dit wraggies nie doen nie! Dit het 'n hele paar keer se verduidelik en oefen gevat om hom te kry om dit reg te kry - maar hy het dit nou! :-) 

Is my pogings besig om vrugte af te werp? Verseker! Sy praat taal is besig om baie meer verstaanbaar te raak en sy sinskonstruksie raak met die dag beter! Sy woordeskat brei elke dag 'n bietjie uit en hy leer hoe om die taal te gebruik op 'n manier wat ek nooit self sou uitgedink het om hom te leer hoe om dit te doen nie.

Wat ek net eintlik wil sê met bogenoemde is: as jy jouself dalk in 'n soortgelyke plek bevind - maak gebruik van die boekies op hierdie webtuiste. Moet nie hulle waarde onderskat net omdat hulle gratis beskikbaar is nie! Hulle kan vir jou kind die taal deurbraak gee wat hy/sy nodig het! 
Tot volgende keer... mag jou tuisskool reis ryklik geseënd wees!
4 Comments

    Author

    Ek is Louise Bodenstein, Ma van 6 kinders en Tuisskool Ma vir die afgelope 5 jaar. Tans woonagtig in Otjiwarongo Namibia , maar voorheen 'n Pretorianer.
    ​(2016)

    Archives

    March 2017
    February 2017
    September 2016
    August 2016

    Categories

    All

    RSS Feed

Powered by Create your own unique website with customizable templates.